Beste Kliënte en Vriende
Die einde van die jaar is in sig en dit is nodig dat ons terugkyk na die verlede wat ons nie kan verander nie, sodat ons aanpassings kan maak vir die toekoms wat ons wel kan beïnvloed.
Tussendeur die gejaag van die lewe, moet ons soms net stilstaan om te besef dat die spoed waarteen ons leef, ons nie noodwendig op die plek gaan bring waar ons graag wil wees nie.
Stephen Covey vertel die storie van ‘n man wat toegewyd besig is om ‘n boom af te saag. Sy saag is stomp en hy sukkel hom stokflou maar rig nie eintlik iets uit nie. ‘n Vreemdeling wat die gesukkel aanskou, vra die man hoekom hy nie eers die saag skerpmaak nie. Die man se antwoord?
“Ek het nie tyd nie.”
Hoeveel van ons kan nie gerus eers ophou sukkel en ons saag skerpmaak nie?
2023 sal vir baie goeie, maar ook slegte gebeurtenisse onthou word. Suid-Afrika wen die rugby wêreldbeker vir ‘n tweede agtereenvolgende keer en bring in ‘n tyd van soveel politieke en sosio-ekonomiese probleme, ‘n diverse land bymekaar. Terselfde tyd duur die oorlog in Gaza en Ukraine voort, en neem die lewens van duisendes.
Hierdie jaar het ons nege kliënte aan die dood afgestaan en gesien hoe ander deur uitdagende tye gaan met lewensveranderende diagnoses. Soms is moeilike gesprekke en ongemaklike aanpassings nodig vir ‘n gewensde uitkoms en moes jy ons vertrou dat ons jou beste belange op die hart dra.
In oomblike soos hierdie, kom wys die realiteit van die lewe vir ons wat ons lese “people serving people “ werklik beteken en hoekom ons doen wat ons doen.
Tussendeur die uitdagings is daar ook altyd iets om te vier: hierdie jaar het ons twee nuwe lewentjies in die JWR-familie verwelkom; ons jongste adviseur, Jana Human, het gekwalifiseer as CFP; ons kantoor het ‘n glinsterende opknap gekry; ons het nuwe spanlede verwelkom; Phillip van der Merwe en Marinus Lanser sluit by my aan as direkteurs van JWR en ons besigheid groei in ‘n tyd van ekonomiese druk en onsekerheid.
JWR is gebou met ‘n passie vir sy mense, om ons kennis te gebruik om ‘n positiewe impak in mense se lewens te maak. Dankie dat julle ons die geleentheid gee om ons passie uit te leef.
My voorstel vir hierdie vakansietyd is dat ons die paar weke sal gebruik om ons “saag” skerp te maak, en stil te staan sodat ons ook die mooi tussendeur al die uitdagings kan raaksien voordat ons die volgende groot boom aandurf. Ons sien uit na ‘n tyd van rus, sodat ons met vars energie saam met jou die uitdagings en geleenthede van 2024 kan aanpak.
Beste wense, Johnnie Roelofse